MASKERSPEL ek kruip agter baie maskers weg verskans myself agter verbrokkelde murasie mure halfversteke agter flardes van ‘n sluier ek skuil verward tussen leë leuns en vervreemde waarheid ek goël met geloofwaardigheid en toor met truïsmes die verveelde trane wat van my oë drup smaak sout soos die see en leeg soos bloed ek ken iemand wat iemand ken wat my ken soos ‘n feëverhaal soos ‘n stadslegende ek speel baie rolle van hofnar tot laksman van gebroke maagd tot heilige hoer ek kruisig myself aan die wandade van my verlede en eis vergifnis van die onkunde van my toekoms ek vergewe my sondes in die weerloosheid van my menswees doop my daagliks in verwyt en venyn tussen my vreugdes en tussen my pyn kruip ek steeds weg agter baie maskers -GiVan-